By ons, NG Gemeente Waverley, glo ons dat elke mens verdien om hul goue jare in waardigheid, veiligheid en die gemeenskap te beleef. As ’n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy is ons roeping duidelik: om ’n verskil te maak in die lewens van senior volwasse persone.
Die NG Gemeente Waverley het in 2005 die Waverley Behuisingstrust gestig om ‘n fasiliteit te skep wat voorsiening maak vir verblyf aan afgetrede persone. Vleilelie is op ‘n deel van die erf van die Kerk in 30ste Laan (voorheen NG Gemeente Villieria-Oos) opgerig. Dit is geleë tussen Laerskool Villieria en die rolbaan-baan in 30ste Laan. Op 23 April 2006 het Ds CJ Lotter, wat op daardie stadium predikant in die Gemeente was, Vleilelie amptelik geopen.
Gedurende 2025 het die trustees in samewerking met die inwoners van Vleilelie en die kerkraad van NG Gemeente Waverley besluit dat ‘n maatskappy die belange van die inwoners en kerk beter kan bedien. Die daad is dan ook by die woord gevoeg en op 6 November 2025 is Vleilelie NPC (2025/871246/08), gestig.
“Mag jy jou lewe lank rustig woon”, Deuteronomium 33:25 is op die steen aangebring wat tydens die amptelike opening van Vleilelie, onthul is . Dit vorm ook die basis van ons Gemeente se doelwit met Vleilelie NPC.
Vleilelie is gebou met liefde deur NG Gemeente Waverley en is ’n getuienis van geloof in aksie—’n plek waar omgee, gemeenskap en waardigheid saamkom om ons senior volwassenes te dien. Vleilelie is bedoel vir persone ouer as 60 wat nog self-versorgend is.
As ’n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy is ons roeping duidelik: om ’n verskil te maak in die lewens van senior volwasse persone.
Ons bied lewensreg aan, sodat ouer persone met gemoedsrus kan beplan en leef.
Ons voldoen aan die Wet op Behuisingsontwikkelingskemas vir Afgetrede Persone, en werk met integriteit en deursigtigheid.
Vleilelie bestaan uit 12 wooneenhede. Die wooneenhede is heerlik ruim en bestaan uit ‘n groot leefvertrek, met 2 slaapkamers en 2 badkamers. Die hoofslaapkamer het ‘n en-suite badkamer. Elke eenheid het ook ‘n toesluitmotorhuis en sommiges het ook ‘n afdak. Die paaie tussen die huise is met plaveistene bedek.
Elke wooneenheid het ‘n lekker stoep met sy eie tuin, waarvoor die inwoners verantwoordelik is. Die tuine is pragtig versorg en weerspieël iets van die uniekheid van elke inwoner of egpaar. Een keer per week kom ‘n tuinwerker om te help soos en waar nodig met die skoonmaak van die terrein en om die asblikke uit te sit.
Die perseel van Vleilelie is met ‘n baksteenmuur en geëlektirfiseerde draad bo-op die muur, omhein. Die alramstelsel van die kompleks is gekoppel aan ‘n reaksie-eenheid. Die inwoners moet aan besoekers toegang gee tot die perseel. Elke inwoner het ‘n paniek-knoppie wat ook aan die reaksie-eenheid, wat die sekuriteit van die perseël hanteer, gekoppel is.
Verder is daar ‘n evaluering van die sekuriteit en veiligheid in Vleilelie gedoen. Brandblussers is in plek en word gereeld gediens. Daar is in samewerking met die brandweer ook ‘n noodplan vir die kompleks uitgewerk. Verder bestaan daar ook ‘n buddy-sisteem waar inwoners “uit-kyk” vir mekaar en mekaar ondersteun.